Philip se persoonlike missiestelling:
"Om deur middel van gesproke en geskrewe woorde 'n invloed op mense uit te oefen om nuut te dink en op nuwe paaie te stap."
Philip wil graag sien dat gay gelowiges destruktiewe paaie vir geesvervulde lewens verruil. Die gebaande dogmatiese paaie van die hoofstroomkerke wat `n gay leefstyl afkeur is egter ewe afbrekend vir die gay gelowige se ontwikkeling as mens en verhouding met God. Dit skaad ook ons perspektief op die rol van die Bybel in die gelowige se lewe deur die bybelskrywers se kennis en lewensbeskouing `n ontoepaslike impak op ons lewens te laat maak. Dit verwar gay Christene boonop wanneer ons sien dat dieselfde dogmatiese kringe nie meer so ernstig is oor die letterlike toepassing van ander bybelse uitsprake as wat hulle oor die gay uitsprake is nie. `n Voorbeeld is die gemak waarmee kerke geskeides met nuwe maats in tweede huwelike bevestig, terwyl Jesus dit verbied het dat geskeides met enige iemand anders as hule oorspronklike eggenote in die huwelik tree. Hierdie selektiewe dogmaskommeling vervreem gays van die kerk en ontneem ons van die geleentheid om ook met die Bybel te stoei soos wat vroulike predikante in hulle gestoei met die Bybel uiteindelik hul regmatige plek op die kansel ingeneem het. Die Bybel se etiek het nie die finale antwoord vir vroue wat graag wil preek nie. Eweneens het die Bybel se etiek nie die finale antwoord vir gays se opregte behoefte aan liefde nie.
In Die Kapel wil Philip sy mede gay gelowiges inspireer om onder beheer van die Heilige Gees Bybel te lees deurdat hy hulle van `n nuwe perspektief op die rol van die Bybel voorsien. Philip se tweede boek handel oor hierdie onderwerp en sal in 2012 verskyn. Met hierdie probleem opgelos, stap ons in Die Kapel `n pad met die Here wat oor veel meer as ons gaywees gaan.
Philip Liebenberg Instituut vir Geestelike Groei
Teikengroep: Die gay gemeenskap
Voertuie:
Die Kapel
Sentrum vir Holistiese Gesondheid
Skool vir Teologie, Etiek en Lewensbeskouing
Die Kapel se doelstelling
Om 'n gesonde gay kultuur te ontwikkel waarbinne die Heilige Gees ons lewens transformeer.